Solidariteit vra impakstudie oor wysigings aan arbeidswetgewing

Die voorgestelde wysigings aan arbeidswetgewing moet aan ʼn impakstudie onderwerp word wat die algehele uitwerking daarvan op die arbeidsmark evalueer. Dit is een van die standpunte vervat in ʼn voorlegging deur Solidariteit vandag tydens die voortsetting van die arbeidsportefeuljekomitee se openbare verhore oor wysigingswetsontwerpe op die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995) en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (Wet 75 van 1997).

Johan Kruger, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê een van die kommerwekkendste wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat nog nie regtig aandag geniet het nie, is die bepaling in artikel 111(5) dat indien ʼn vakbond gederegistreer word en daarteen appelleer, die deregistrasie steeds van krag sal wees vir die duur van die appèlproses. “Só ʼn maatreël het die potensiaal om ʼn vakbond ten gronde te laat gaan selfs al slaag die appèl uiteindelik.” Solidariteit verwelkom egter wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge wat dit makliker sal maak vir minderheidsvakbonde om organisatoriese regte te bekom. Volgens Kruger is dit belangrik dat vakbondpluralisme in Suid-Afrika bevorder word. “Tans word bestaande wetgewing misbruik om minderheidsvakbonde uit werksplekke te druk weens onbereikbare drempels vir verteenwoordiging wat gestel word. Hierdie wysigings is ʼn belangrike stap om hierdie misbruik hok te slaan,” sê Kruger.

Volgens Kruger sal die voorgestelde artikel 188B senior werknemers se reg beperk om die prosedurele en substantiewe billikheid van hul ontslag te beveg. “ʼn Werknemer kan arbitrêr ontslaan word solank ʼn werkgewer hom drie maande se salaris betaal ongeag of daar ʼn billike proses gevolg word of ʼn geldige rede vir die ontslag bestaan of nie.”

Kruger sê die kumulatiewe uitwerking van die voorgestelde arbeidswetgewing kan die regering se prysenswaardige doelwit van werkskepping ondermyn. “Die voorgestelde wysiging van die Wet op Gelyke Indiensneming (Wet  55 van 1998) en die voorgestelde Wet op Indiensnemingsdienste wat in konsep reeds deur die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) gefinaliseer is, moet saam met die ander wysigings aan ʼn impakstudie onderwerp word om die totale uitwerking daarvan op die arbeidsmark te evalueer voordat dit in die parlement ter tafel gelê word.”

Lees die voorlegging:  Solidarity comments on Labour Bills