Die waarheid oor die 10de regstellendeaksieverslag van die Diensgelykheidskommissie (Commission for Employment Equity)
Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gaan vandag ʼn verslag bekend maak met die titel “Die waarheid oor die Diensgelykheidskommissie se tiende regstellendeaksieverslag”. Die Solidariteit-verslag gaan toon dat die Diensgelykheidskommissie se verslag deurspek is met wanvoorstellings, optelfoute en twyfelagtige metodologie. Die Solidariteit-verslag gaan ook plekke aantoon waar daar doelbewuste misleiding in die kommissie se verslag voorkom. Boonop gaan die Solidariteit-verslag ook wys dat, anders as wat die kommissie probeer aandui, daar groot vordering gemaak is met regstellende aksie. Die kommissie se eie swak statistiek gaan daarvoor gebruik word. Voorts gaan ook aangetoon word dat die enigste twee plekke waar regstellende aksie negatief is, is die agteruitgang van wit vrouens asook wittes op die onderste posvlakke, waar daar ʼn groot onderverteenwoordiging van wittes is. Solidariteit lei uit die regstellendeaksieverslag af dat die kommissie in diens staan van ʼn spesifieke ideologie en nie van die waarheid nie. Dit is kommerwekkend dat daar op grond van hierdie twyfelagtige verslag aanbevelings vir wetswysigings gemaak word.
Die media word uitgenooi om die bekendstelling by te woon. ʼn Ligte middagete sal bedien word. Datum: 5 Augustus 2010 Plek: Kremetart-raadsaal, Solidariteit Hoofkantoor, h.v. D.F. Malanrylaan en Eendrachtstraat, Kloofsig. Tyd: 12:00